Vrystaat Kunstefees 2017
August 9, 2017
Marion se boodskap tref diep
Deur Irma Senekal, Bloemfontein 22 Julie 2017 05:00
Nooit gedink ek gaan ooit ’n traan pik in Marion Holm se uitstaande komiese produksies nie. Nog altyd geglimlag, kop geskud of geskater van die lag vir elke kwinkslag en komiese vertellings uit daai gladde mond.
Vanjaar het sy egter alle verwagtinge oortref! Dankie Marion, dat jy dapper genoeg is om jou hele ervaring met borskanker, van die diagnose tot die blêrrie pilletjies wat nog vir vyf jaar gedrink moet word en vrouens letterlik en figuurlik laat sweet soos stryd-osse, met gehore oor die land heen te deel.
Wanneer ’n mens self die ou paadjie gestap het, of iemand ken wat dit moes doen, spring daar onwillekeurig ’n ou traantjie in jou oog. Op wonderlike, komiese wyse het jou vertelling een groot doel voor oë: Om vrouens (oud en jonk) in te lig dat kanker nie ’n doodsvonnis hoef te wees nie!
“Gaan doen net gereeld al die ongemaklike ou ondersoekies, vertrou dat die groot K met die genade van Bo betyds ontdek sal word, en jy kan en sal genees word.”
Marion, jy is voorwaar ’n aktrise duisend en ons salueer jou vir jou dapperheid, openhartigheid, en uitmuntende talent!